Die vrou kook nie net groenboontjies in die winter nie, sy kook dit ook op warm dae. Gisteraand het sy nostalgies gevoel en toe weet sy dis weer groenboontjietyd vir haar.Sy staan voor haar kombuisvenster en sny ‘n kooksel boontjies een vir een. Sy kook net vir twee.Sy is nie haastig nie en dis lekker koel voor die venster.
Toe hulle nog klein was het sy en haar broers laatmiddag saam met haar ma stad toe gery na die woonstel waarin haar ouma gebly het. Die woonstel het geruik na aartappels,uie, peper en boontjies. Op die stoof het die klein potjie geprut. Net genoeg kos vir een mens.Hulle het onverwags daar aangekom. Haar ma het protesteer…”maar ma dit is mos jou aandkos…”Haar ouma wou van niks weet nie en sy het hulle drie laat aansit en die kookseltjie boontjies is in ‘n japtrap opgeeet. In haar kindertyd het kinders altyd geeet as daar iets voor hulle neergesit is.Haar ouma was baie ouer as wat sy nou is en sy het swaar geloop. Sy het gewoonlik na die naaste kafee /groentewinkel geloop om haar kos te koop. Na die dood van haar man het sy van die Kaap af verhuis om nader aan haar dogter en die kleinkinders te wees. Wat die vrou nog vandag onthou is dat hulle met jooltyd altyd van ouma se balkon na die studente onder in die straat gekyk het.
Die vrou hou daarvan om gereeld groenboontjies met uie,aartappels en peper te kook. Sy wens nou sy het na haar ma geluister en nie die boontjies opgeeet daardie dag nie. Sy wens sy het uitgehardloop en vir haar ouma nog ‘n kooksel boontjies gaan koop. Sy wonder nog vandag wat het haar ouma toe daardie aand geeet? Seker ‘n stukkie brood by haar tee. Die leser moet nie dink haar ouma was behoeftig nie. Sy het genoeg gehad, maar hoe ouer mens word en hoe swaarder jy loop, hoe moeiliker raak dit om jou basiese goed in die hande te kry.
Elke keer as die vrou boonjies kook dan dink sy aan haar ouma. As een van haar kinders hier inloop vandag en die boontjies ruik en lus kry daarvoor, sal sy dit ook als in hul bord skep. Die vrou weet vandag dat ‘n mens nooit by jou ma of jou ouma moet instap sonder iets in jou hand vir haar nie.