Koerante

Die vrou staan in die kombuis. Sy drink haar oggendkoffie. Buite skitter elke blaartjie in die sonlig. Haar man sit die koerant, vars broodrolletjies en vleis op die kombuistoonbank neer. Hy vertel haar van die bekendes wat hy in die winkel hier naby raakgeloop het. Hy vertel KB het vier koerante en ‘n skaapboud gekoop.

Die vrou vat die middelblad van die koerant en gaan sit buite op die stoep. Sy los altyd die voorblad vir hom om eerste te lees. Vier koerante, dink sy. Een vir elke lid van die gesin … almal volwassenes. Maar wat ‘n luukse, dink sy. Elkeen met sy eie koerant. ‘n Hele koerant vir jouself.  Sy wonder of haar man en sy ook op so ‘n stadium in hul lewe gaan kom. Langs mekaar, lesend. Haar man is iemand wat nie lank kan stilsit nie.  Hy wil besig bly met sy hande. Sondagoggende werk hy hard aan dit wat hy vir middagete gaan kook.Nog nooit het sy die moontlikheid van ‘n eie koerant vir elkeen van hulle oorweeg nie, maar vandag, op hiedie helder oggend klink dit na die beste ding wat daar op ‘n Sondagoggend kan wees.

Praktiese dinge

Haar pa het ‘n stoepsitter geword na sy aftrede. Die vrou word ‘n voor die venster sitter. Sy trek met haar skootrekenaar deur die huis. Die lekkerste plek is voor die kamervenster. Sy kyk uit oor die stil voorstedelike straat. Die afgelope maand het twee vroue in die straat as gevolg van kanker heengegaan. Die vrou sien hoe die man van die eerste vrou wat heengegaan het vroeg een oggend werk toe ry met agterop sy bakkie die verlepte blomme. Vanoggend sien sy hoe ‘n yskas, ‘n stoel en ‘n paar bokse afgelaai word. Stil, sonder lawaai. Die vrou wat tweede heengegaan het is Vrydagaand laat in haar woonstel oorlede.Die vrou dink aan die lewe wat moet aangaan.Sy dink aan die  goed wat afgelaai en weggery moet word. Sy dink aan haar goed. Sy dink aan haar klere, boeke, briewe en kaartjies in laaie. Die twee vroue het geweet hulle dae is min. Hulle het minder gemaak, maar tog is daar altyd die laaste goed en die laaste totsiens.

Verlore

Die vrou sit laataand voor die televisie. Sy kyk na ‘n program oor romantiese ontmoetings tussen vreemdelinge wat plaasvind oor ‘n ete. Die vrou wat kook praat oor haar vermoe om nog ‘n man te kan vang. Sy het haar libido verloor, verklaar sy terwyl sy proe aan haar gereg.Die vrou wat kyk sit regopper in haar stoel. Kan dit moontlik wees? Het sy reg gehoor? Die een wat kook is sekerlik net ‘n paar jaar ouer as syself. Hoe verloor ‘n mens jou libido en kan jy dit weer terugkry?Die vrae wat nou by haar spook pla die vrou wat kyk. Sal sy weet as dit met haar gebeur?Is dit iets wat sommer skielik toeslaan? Hoe voel mens na dit gebeur het of is dit ‘n geleidelike proses?
Die man met wie die vrou ‘n blinde afspraak het,daag op vir die ete. Hy is nie onaantreklik nie. Die vrou luister na die gesels. Sy bespeur geen sprankel nie. Albei van hulle is al vir ‘n geruime tyd  op hul eie. Dit lyk nie of die vrou eers wil vriende maak met die nuwe man wat sy nou ontmoet het,alhoewel hy tog lyk of hy belang sal kan stel in haar. ’n Mens val natuurlik nie vir elke man wat jou pad kruis nie, maar om so sonder ‘n sprankie libido te wees – dit is ‘n harseer saak- dink die vrou wat sit en kyk. Sy hoop regtig sy behou haar libido nog vir  lank.

Groenboontjies

Die vrou kook nie net groenboontjies in die winter nie, sy kook dit ook op warm dae. Gisteraand het sy nostalgies gevoel en toe weet sy dis weer groenboontjietyd vir haar.Sy staan voor haar kombuisvenster en sny ‘n kooksel boontjies een vir een. Sy kook net vir twee.Sy is nie haastig nie en dis lekker koel voor die venster.

Toe hulle nog klein was het sy en haar broers laatmiddag saam met haar ma stad toe gery na die woonstel waarin haar ouma gebly het. Die woonstel het geruik na aartappels,uie, peper en boontjies. Op die stoof het die klein potjie geprut. Net genoeg kos vir een mens.Hulle het onverwags daar aangekom. Haar ma het protesteer…”maar ma dit is mos jou aandkos…”Haar ouma wou van niks weet nie en sy het hulle drie laat aansit en die kookseltjie boontjies is in ‘n japtrap opgeeet. In haar kindertyd het kinders altyd geeet as daar iets voor hulle neergesit is.Haar ouma was baie ouer as wat sy nou is en sy het swaar geloop. Sy het gewoonlik na die naaste kafee /groentewinkel geloop om haar kos te koop. Na die dood van haar man het sy van die Kaap af verhuis om nader aan haar dogter en die kleinkinders te wees. Wat die vrou nog vandag onthou is dat hulle met jooltyd altyd van ouma se balkon  na die studente onder in die straat gekyk het.

Die vrou hou daarvan om gereeld groenboontjies met uie,aartappels en peper te kook. Sy wens nou sy het na haar ma geluister en nie die boontjies opgeeet daardie dag nie. Sy wens sy het uitgehardloop en vir haar ouma nog ‘n kooksel boontjies gaan koop. Sy wonder nog vandag wat het haar ouma toe daardie aand geeet? Seker ‘n stukkie brood by haar tee. Die leser moet nie dink haar ouma was behoeftig nie. Sy het genoeg gehad, maar hoe ouer mens word en hoe swaarder jy loop, hoe moeiliker raak dit om jou basiese goed in die hande te kry.

Elke keer as die vrou boonjies kook dan dink sy aan haar ouma. As een van haar kinders hier inloop vandag en die boontjies ruik en lus kry daarvoor, sal sy dit ook als in hul bord skep. Die vrou weet vandag dat ‘n mens nooit by jou ma of jou ouma moet instap sonder iets in jou hand vir haar nie.

Vries

Bloubessies is in seisoen. Die vrou is gek na die klein blou vruggies. Sy koop sommer vier houers want dit is verruklik saam met vanilla roomys. Sy moet onthou om van dit te vries vir die ‘blou dae’ as alles net te duur is en net te veel word. Die vrou ontdek weer die gerief van sakkies in die vrieskas.  Van die vroegste tye is kos ingesamel en gebere vir die skaars tye. Lewenskoste bly styg dus is sy nou op die uitkyk vir dit wat sy kan bere. Die bloubessies in hul sap is ‘n begin. Sy dink daaraan om dit op ‘n reenerige dag oor pannekoeke te gooi. Of om dit voor die kaggelvuur te eet saam met roomys.Vuur en koue. Haar ouma het altyd plaatkoekies en pannekoeke gevries. Sy dink aan hoe sy dit gaan bedien as sy gaste onthaal. Driehoek pannekoekies wat dryf in die bloubessiestroop met kersielikeur?

Sy pak die bakkies in haar vrieskas en merk dit met ‘n bloupen in sierletters. Winterbessies, skryf sy.

Dekadent

Die  vrou lees in die koerant van wilde oujaarsaandpartytjies, van limousines en ‘n wilde gejaag in die strate. Die vrou skud haar kop. Sy is bly sy sit weer veilig onder ‘n boom in haar tuin. Oujaarsdagaand het sy op ‘n stoep in die berge vonkelwyn saam met vriende gedrink. Hulle het ’n panetone gesny en na die vuurwerke onder in die klein dorpie gekyk.

Vandag is sy lus vir lietsjies, mangoes, druiwe en pruime. Sy ry na die groot winkelsentrum naby haar, maar kry net bokse groen mangoes vir R50. Te veel. Na nog drie kleiner winkels kry sy waarna sy soek. Ryp mangoes vir onder die vier rand stuk. Sy koop ook pruime, druiwe en lietsjies.

By die huis pak sy die vrugte op ‘n skinkbord. Nat lappies en koel water kom daarby.Sy roep haar man Hy het  het die gras gesny. Die tuin ruik soos waatlemoenstukke. Hulle gaan  sit onder die koelteboom en smul aan die vrugte. Die sop spat en die mangoesap drup teen haar keel af. Dis haar soort dekadensie, dink sy terwyl sy na die lee bokse om haar kyk.

Stom

Die gaste het vertrek. Die praatjies maak en die bediening van die kos en gasvrou speel kleef nog aan haar. Sy en haar man werk in stilte langs mekaar en maak die kombuis aan die kant. Dis hy wat die laaste koppies in die skottelgoedwasser pak want hy doen dit net beter. Die vrou is soms bietjie haastig en kry nie alles op een slag in nie. Al die ligte in die huis brand. In die sitkamer flikker die kersliggies ook. Stokou kersliggies wat nog steeds brand. Klein blommetjies. Sy onthou hoe haar pa altyd gesukkel het as daar ene in die stringetjie was wat nie wou brand nie. Nooit het hy die liggies sommer eenkant toe gegooi en nuwes gaan koop nie. Noudat hy nie meer hier is nie(al meer as ses jaar!) en haar ma wat so baie goed net weggegee het, hou sy maar vas aan die liggies en elke jaar brand dit.

Die vrou stap buitentoe. Sy gaan in die donker onder die bome staan. Sy ruik die klam grond.Sy trek haar asem in en blaas dit stadig weer uit. Die aand se kuier val van haar af.Binne in die huis begin haar man die ligte afskakel. Sy bly buite onder die bome staan, hoor hoe alles om haar asemhaal in die stilte. Met die naglug om haar voel sy hoe tydperke vervloei. Sy kan haar byna verbeel dat sy op ‘n ander plek is waar ander vroue lank tevore ook buite in die naglug langs hul nedersetting gestaan het om na Moeder Aarde  te luister totdat iemand hard uitroep en hulle terugdwing na binne.

Meetsnoere

Die vrou is vanaand oorlaai met geskenke. Haar hart loop oor.Van die dogter wat ver bly, kry sy twee botteltjies wateroplossing vir haar kontaklense,’n pakkie tee en ‘n tydskrif. Die dogter het onthou toe sy gekla het dat die ingevoerde water vir haar lense so duur hier is. Sy het ook onthou hoe baie sy van die minttee gehou het wat sy elke oggend saam met haar dogter gedrink het en haar dogter het ook onthou dat sy gek is oor tydskrifte.

Die dogter wat naby is, gee vir haar ‘n breerand sonhoed en ‘n blink swart serp. Sy dink haar ma sal soos ‘n celeb lyk met groot ronde sonbrille daarby.

Van haar eie moeder kry sy ‘n wit stenesnoer vir haar nek.

Die vrou se man gee vir haar ‘n houthart en sagte neutnougat.

Die vrou klim vanaand in haar bed asof sy ‘n goue kroon op haar kop dra.

Windstil

‘n Vriendin kom kuier. Sy bring ‘n bottel wyn en roompoffertjies met sjokolademousse. Die vrou van die huis luister hoe sy praat. Sy het baie om te vertel. Sy vertel haar van al haar probleme by die werk. Later praat sy oor haar familie en hulle dramas. Soms kyk die vrou van die huis op na die blare van die bome. Die blare praat nie vandag met mekaar nie. Daar trek nie eers ‘n luggie nie. Die vrou drink die wyn, bedien geroosterde hoender,slaai, roomys en bloubessiesous en  laaste die roompoffertjies wat haar vriendin gebring het, saam met sterk koffie.

Na die kuier gaan le sy op haar bed want sy is doodmoeg.

Nog steeds is geen luggie wat trek nie.

Elke vrou

Elke vrou is ‘n Sheherazade. Hoe anders put jy betekenis uit jou bestaan? Soms voel jy opgebruik en dan is dit die tyd van die wolwe. Die stories vertel begin instinktief. Dis ‘n oorlewingsdrang. Jou sintuie verskerp, jou oe kyk ver.

Gister het die vrou ‘n rolstoel raakgesien. Sy het daarop afgepeil. Die rolstoel is oud, maar bruikbaar. Dit het in haar motor gepas. Sy het dit na haar ma toe geneem. Haar ma het dit verbaas sit en bekyk. “Dis goed so,” het sy  gese toe sy sien dat dit kon opvou “Ons bere dit vir eers.”

Die vrou het tevrede gevoel.